Monday, May 19, 2008

Die Vrou

Een oggend het ek opgestaan en besluit om die vreemde stad en sy gegewens te trotseer, om op 'n wandeling te gaan en bo-oor hulle te loop: bo-oor die stad se strate te loop met voete wat bo die dood self sou kon uitstyg, voete wat immuun sou wees teen ys soos teen warm kole, onsterflike voete, voete wat in sandale oor sneeu kon trek.

Met sulke voete het ek opgestaan, wetende dat dit die laaste dag van die huidige stelsel se triomf oor alles wat leef en beef sou wees, wetende dat dit God sou behaag om dit alles te vernietig teen die einde van hierdie einste glorieryke dag, en dat dit die gelukkigste dag van my lewe sou wees vir solank ek my geloof sou behou.

Ek het opgestaan, op soek na eekhorings.

Ek wou park toe gaan in my dun grys denimromp en my grys angora-bokhaartrui wat my ma in my moederland vir my gegee het. Ek sou park toe gaan sonder om te weet watter park dit was wat ek gesoek het. Hierdie stad het baie parke. Ek moes 'n park met eekhorings gaan soek, want iewers op so 'n dag moes iemand haar noodwendig oor die eekhorings ontferm.

Die mense sou nie aan hulle dink nie: hulle sou slegs hul eie lewens wou red op 'n dag soos vandag; elkeen van hulle sou in 'n bus klim, in 'n motor of in 'n trem, en elkeen sou slegs homself, sy gesin en hoogstens sy kat, sy hond of sy parkiet probeer red. Wie sou hulle oor die eekhorings ontferm op die laaste dag voor die grenslose nag van Armageddon?

En die antwoord was: natuurlik niemand nie.

Dit staan in die Bybel geskryf dat die mensdom in die laaste dae almal minnaars van hulself sou word; sonder enige natuurlike liefde in hul harte, onwillig om enige ooreenkoms aan te gaan: woes en gewelddadig sou hulle word, en die maag sou hul god wees. Daarom het ek geweet dat geeneen van hulle dit in hul harte sou vind om aan 'n enkele eekhoring te dink op 'n dag soos vandag nie. Dit sou elke man vir homself wees, en die duiwel vir die eekhorings. Dit kan ek nie toelaat nie.

Ek het opgestaan en 'n kersie aangesteek vir die Moeder Maria. Ek het die kersie in my huis gelos in sy lang rooi glashouer. Dit sou heeldag en heelnag moes aanhou brand sodat die Moeder my huis maklik kon vind; my enkele lewende huis tussen die derduisende geslote geboue met die bevrore siele in hul ewige kelders.

So het ek uit my huis uit gegaan op die laaste dag voor oordeelsnag, op soek na die kleinstes onder die neut-eters.

Ek wou geen verraaier van eekhorings wees nie.